• Mynbase ‘huis toe’ gestuur om huiswerk te gaan doen

BETSIE VAN DER MERWE

Inwoners van Doornpoort asook ander belanghebbendes voel gekul deur die mynmaatskappy, Sable Platinum Holdings, wat al vier jaar besig is met platinumprospektering op die rand van dié woonbuurt sonder dat die gemeenskap in ‘n openbare deelname proses betrek is.

Hierbenewens het Gemsbok Platinum (Pty) Ltd, ‘n affiliaal van Sable Platinum Holdings, ook verlede jaar ‘n prospekteringsaansoek ingedien vir vanadium, ystererts en gepaardgaande minerale op die plaas Doornpoort 295JR (2779.64 ha) sowat 10km noord van die stad. Indien goedgekeur deur die Departement van Minerale en Energie, sal dié prospektering net noord van die platinumprospektering noord van die Halls Hill koppies plaasvind.

Inwoners het tydens ‘n vuurwarm fokusgroepvergadering op 6 Maart in Montana in geen onseker terme gesê hulle wil nie dié prospektering wat tot mynery kan lei op hul voorstoep hê nie en dat die mynmaatskappy besig is met oëverblindery.

“Daar is nie oop kaarte met ons gespeel nie,” het raadslid Arnold van Niekerk (wyk 5) in ‘n betoog gesê. Hy aangedring dat daar nie na Sable Platinum se voorlegging geluister word nie, maar dat die mynbase huis toe gestuur moet word “om eers hul huiswerk te gaan doen.” Tientalle omgekrapte teenwoordiges het hom ondersteun.

Die Doornpoort Inwonersvereniging (DIV) het die vergadering aangevra, nadat hulle “toevallig” te hore gekom het van ‘n prospekteringsaansoek vir platinum. By navrae in die vergadering oor die booraktiwiteite wat reeds op die grond plaasvind, het die DIV egter besef die huidige aansoek is nie vir platinum nie – dié is reeds vier jaar aan die gang – maar dat die nuwe aansoek ‘n addisionele aansoek vir vanadium en ystererts is.

James Allan, hoof uitvoerende beampte van die mynmaatskappy, het erken dat die vorige omgewingskonsultante nie die gemeenskap in die openbare deelname proses oor die platimumprospektering betrek het nie. Hy het egter gesê: “Ons het die prospektering vir platinum nou gestop omdat ons reeds 1 560m diep geboor het, en nog geen platinum gevind het nie.” By navraag het hy aan Eastern Times gesê dit is onwaarskynlik dat daar vir platinummynregte aansoek sou doen. Dit beteken egter nie dat dit nié gedoen kan word nie.

Sou die prospekteringsaansoek vir vanadium en ystererts egter goedgekeur word en lewensvatbare neerslae gevind word, sal daar aansoek gedoen word vir mynregte vir dié minerale. “Dit sal dan weer verdere vergaderings met belanghebbendes en geaffekteerdes behels.”

Raadslid Hannes Coetzee (wyk 96) het verskeie leemtes in die aansoekproses uitgewys. Die paar A4-kennisgewings, wat glo in die omgewing opgerig is en een advertensie in ‘n nasionale koerant – beide aksies in die Desembervakansie – was nie genoeg om geaffekteerders die kans te gee om te reageer nie, het hy gesê. Hierbenewens was die konsep omgewingsbestuursplan tot 4 Maart vir openbare besigtiging beskikbaar. Die vergadering op 6 Maart was dus te laat.

Daar is versoek dat Sable Platinum die proses stop. Allan het egter gesê die myn is nie bereid om die aansoek te onttrek en van voor af in te dien nie, maar het ingestem om weer met die DIV op dié se versoek te vergader en te poog om uitstel te kry vir die datum waarop kommentaar ingedien kan word.

.

Martin Barnard, voorsitter van die DIV, het teen druktyd  gesê: “Die datum, 8 Mei, vir die volgende vergadering is bevestig. Ons wag nog terugvoer van Digby Wells, wat die omgewingsbestuursplan hanteer, om te hoor of uitstel verkry is van die Department sodat die openbare deelname proses behoorlik gedoen kan word en ons besware op rekord kan kom by die Departement.”

 

Die beplande prospekteringsgebied, noord van die N4 en oos en wes van die N1 op die plaas Doornpoort 295JR. Besware teen die prospektering behels onder meer: gesondheids- en omgewingsrisiko’s, strukturele skade aan residensiële eiendom en gepaardgaande waardevermindering sodra skietery begin, uitputting van waterbronne, besoedeling, druk op bestaande infrastruktuur en talle sosio-maatskaplike probleme.

Die beplande prospekteringsgebied, noord van die N4 en oos en wes van die N1 op die plaas Doornpoort 295JR. Besware teen die prospektering behels onder meer: gesondheids- en omgewingsrisiko’s, strukturele skade aan residensiële eiendom en gepaardgaande waardevermindering sodra skietery begin, uitputting van waterbronne, besoedeling, druk op bestaande infrastruktuur en talle sosio-maatskaplike probleme.

 

 

 

 

 

 

Popular Posts:

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Looking for something?

Use the form below to search the site:


Still not finding what you're looking for? Drop a comment on a post or contact us so we can take care of it!

Visit our friends!

A few highly recommended friends...